Tuesday, 13 November 2012

Wat ek geleer het

Oos Wes Tuis Bes. Daar waar jy jou wortels gevestig het en jou lewe gebou het is waar jy hoort. Al is daar aspekte van jou lewe wat seermaak of frustreer, is en sal daai plek altyd die plek wees waar jy die mees oorspronklike jy kan wees.

Moenie probeer om van jou probleme af weg te hardloop nie. Ek het altyd gedink dat as ek die dag begin toer, ek nie sommer weer huistoe sal gaan nie. Daar is soveel negatiewe denke geheg aan my lewe in Durbanville en Stellenbosch, maar die negatiewe aspekte is dié wat die positiewes so wonderlik maak, en hulle so laat uitstyg bo die res. Swaarkry is deel van die lewe. Dit maak nie saak waar jy is, saam met wie jy is, of wie jy probeer wees nie. Die lewe gaan nooit net ‘n reguit paadjie wees nie.

Ek het geleer dat bestaan dieselfde is waar jy ookal gaan. Jy mag dalk in ‘n ander kultuur instap waar hul ‘n ander taal praat en ander tradisies het, maar die lewe verskil nie sommer van plek tot plek nie. Kinders is nog steeds ongehoorsaam, ouers is nog steeds moedeloos, en water les nog steeds jou dors.

Ek het geleer dat planne nie altyd uitwerk nie. Vliegtuie is laat, visa-aansoeke is gekompliseerd, en ‘n mens word nie onvoorwaardelik welkom geheet in vreemde lande nie. Duitsers is onherroeplik mislik. Italianers het geen etiket as dit kom by sypaadjie-wandelinge nie, en op ‘n reënerige dag in Milan moet jy liewers by die huis bly. Italianers met sambrele is net gevaarlik.

As jy geluk gevind het, klou hand en voet daaraan vas. Ek praat nie van geluk in werksomstandighede of liefdesverhoudings of ander sosiale vreugdes nie. Ek praat van die geluk wat ‘n mens vind as jy tevrede is met jouself. My laaste paar weke in Kaapstad was van die bestes van my lewe omdat ek vrede gemaak het met die swaarkry waardeur die lewe my gestuur het. Ek het daai swaarkry gevat, dit in ‘n handvol kerswas omskep, by ‘n vuur gaan staan, en daai kerswas verdraai tot in ‘n bolletjie vreugde.

Ek het ‘n vriend gemaak wat my gewys het dat die lewe ‘n fees is. Hy het my geleer dat elke dag ‘n nuwe geleentheid is om geluk te vind, en dat die klein en onopmerklike aspekte van die lewe eintlik die ongelooflikste effek kan hê. Ek het geleer dat trane nie altyd uit smart ontstaan nie. Dat berge en waterstrome met ons kan praat as ons luister. En dat ‘n glas wyn nie ‘n ontsnappingspoging is nie, maar eerder die pad na ‘n ontwaking ‘n kans om jou oë oop te maak, uit die bed uit op te staan en albei voete stewig in die aarde te plant met die wete dat jou tydelike bestaan ware waarde dra.

No comments:

Post a Comment